Elsa Joubert

Elsabé (Elsa) Antoinette Murray Joubert is op 19 Oktober 1922 in die Paarl gebore. Sy matrikuleer in 1939 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl. Sy behaal ’n BA-graad (1942) en ’n Sekondêre Onderwysdiploma (1943) aan die Universiteit van Stellenbosch.
In 1945 verwerf sy ’n meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna is sy die vroueredakteur van Die Huisgenoot van 1946 tot 1948. Hierna begin sy te reis en in 1957 verskyn haar eerste reisverhaal, Water en woestyn, wat handel oor haar ervarings in Egipte en Uganda. Elsa Joubert se reise deur Afrika, Suid-Amerika, Europa en die Verre-Ooste het op ’n besondere wyse in haar werk neerslag gevind.
In 1963 verskyn haar eerste roman, Ons wag op die kaptein, wat onder meer die Eugène Marais-prys ontvang het. Sy is met die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys bekroon vir haar invloedryke roman Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), wat in 2002 aangewys as een van die honderd beste boeke in Afrika.
In 1981 ken die British Royal Society of Literature die Winifred Holtby-prys aan haar toe en word sy ’n Fellow van die Society. Haar magistrale roman Die reise van Isobelle (1995) is met die Hertzogprys bekroon. Haar lewenswerk word bekroon met eredoktorsgrade van die Universiteite van Stellenbosch (2001) en Pretoria (2007), en sy ontvang die Orde van Ikhamanga (2004).
fb2epub
Drag & drop your files (not more than 5 at once)