Sy hou my vas tot ek bedaar.
“Ek gaan die foto maar los,” sê sy. “Dis ’n hartseer maan dié. In elk geval is dit moeilik om die maan af te neem. Die kamera tel nie alles op wat die oog kan nie. Dan is dit net weer ’n teleurstelling.”
Sy staan op. “En kom jy nou in, An, of moet Juliet by al haar ander probleme nog longontsteking ook hê?”
“Net ’n rukkie, El. Dan kom ek. Belowe. En voor ek dit naby die kaggel waag, sal ek eers hard hoes. Miskien eers sing … Dalk tap.”
Sy knyp haar oor, ’n teken dat sy skaam kry. Toe skud sy die kombers oop en hou dit asof sy ’n stiervegter is. “Hoor hier, jou snip, wat dink jy doen ons?”