Beyers noem dit Bloeiende vergeetagtigheid. Met ’n spottende grynslag. Ek is in elk geval te jonk om dit te onthou. Dank jou sterre, sê Beyers.
Hy het nog altyd verhoogwerk verkies, maar deesdae is daar nie meer baie verhoogwerk vir middeljarige wit mans nie. Deesdae is hy ook radio-omroeper, televisie-aanbieder, voorleser by kunstefeeste, seremoniemeester by sakekonferensies … Hy háát sakekonferensies, maar dis ’n manier om ’n paar rand te verdien. En hy meen dis beter as Bloeiende vergeetagtigheid.
Maar dis nie waaroor ek wou skryf nie.
Die res maak jy mos maar op. Soos Beyers sê.
Liewe leser, ek wil vir my ’n lewe opmaak. Die lewe van ’n amper vyftienjarige meisie met ’n eksotiese naam soos Fabienne. Sy’s ek, maar sy’s ook nie ek nie. My alter ego, soos juffrou Liebenberg dit noem. Juffrou Liebenberg is my Afrikaans-onderwyseres. Sy’s erg opgetrek met die opstelle wat ek inlewer. Wonderlike verbeelding! skryf sy in die kantlyn. Ek wil nou nie ondankbaar klink nie, maar ek sou meer gehou het van: Wonderlike skryfkuns!
Ek meen, ek wéét ek het ’n vrugbare verbeelding. Soms dink ek dis die enigste ding aan my wat nie bloot gemiddeld is nie. Wat die res betref – voorkoms, lengte en gewig, atletiese vermoë (of onvermoë), punte in die klas, gewildheid onder skoolmaats – dis alles so-so