Hans du Plessis

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria. Hy behaal ’n B.A.-graad aan die Universiteit van Pretoria waarna hy in 1966 begin skoolhou. In 1975 verwerf hy sy doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde aan Unisa en ontvang ’n senior beurs van die RGN in 1976 en studeer verder aan die Harvard Universiteit in die VSA.

Hy hou ses jaar skool en word in 1972 lektor in taalkunde aan Unisa en in 1977 senior lektor by die RAU. In Januarie 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die PUK en in 1990 Direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-universiteit. Hy tree aan die einde van 2011 af en is tans voltydse skrywer en navorsingsgenoot, Navorsingseenheid, Taal en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, Noordwes-universiteit, Potchefstroomkampus.

Hans du Plessis is bekend as navorser, akademikus, digter, dramaturg, rubriek-, roman- en jeugboekskrywer. Afgesien van verskeie akademiese boeke en artikels in nasionale en internasionale vaktydskrifte, debuteer hy in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Daarna verskyn nog vyf digbundels, drie jeugromans, ʼn bundel rubrieke en ses romans. Die laaste drie is historiese romans met die Groot Trek as agtergrond, waarvan die jongste, Inboekeling, in 2014 by Tafelberg verskyn.
fb2epub
Drag & drop your files (not more than 5 at once)